Tuesday, 31 March 2015

Vryval

Vry op die wieke van die suidoos
vir oulaas sweef ek
bo my eiland tralies.
Vry van lewensboeie.

Op die rand van Tafelberg
het ek na vryheid verlang.
Wind deur my vryval hare,
vry op die wieke van die suidoos

Oor glas en baksteen reuse
met see se grougroen omsoom.
Saam met sorgvry seevoëls,
vir oulaas sweef ek.

Ek kyk af oor stad en kerk,
oor liefhe en oor werk.
Sien die boeie van depressie
bo my eiland tralies.

Dan vir laas knip ek my oë,
vou ek my vlerke toe
en vryval na die rotse...
Vry van lewensboeie.

Gebroke kyk ek Godwaarts
bo my eiland tralies.
Vir oulaas sweef ek
vry op die wieke van die suidoos

Karooklong

Draadstuurwiel in die hand
naelstring hom aan sy draadkar vas.
Sy kaalvoettone en skurwe hakies
skop wolkies stof uit die aspad op.
Tanne wat mieliepit-gelid glimlag
tussen sy gebarste lippe,
waai hy met die los hand
die blink waens by hom verby
om agter hul stofwolk te verdwyn.

Maar as die stof gaan lê
hol hy nog onverstoord voort
agter sy naelstring-draadkar
waarvan die visblikwieletjies
dronk-dwarrel en tjier-tjier.
Ongebonde, ontspanne hardloop hy.
Vodde hemp wapper soos presidentsvlag agterna
as hy sy eie spore deur die land se paaie maak.

Verflenterde Karoo-klong,
met jou skurwe sandsool voete,
jy trap stofwolkies deur my wereld.
Met jou draadkarwiele
los jy dwarrel spore deur my hart.
Swaarkry is jou speelgrond,
sukkel jou leerskool.
Kom leer vir my
in my oorvloed
so glimlaggend gelukkig
soos jy te bly.

Perdevleis

Ienkie pienkie ponkie
Suid-Afrika eet nou donkie
Hiekerie diekerie dok
ons maalvleis is nou bok
Taragie taragoe
ons eet biltongkangaroe
Kul jou hie
kul jou daa
ons steaks is nou sebráá.

Viskoekies in die Baai
bestaan meestal nou uit haai
Daai hoender wat so dril
is dikwels krokodil
Die salami aan die hak
is Taiwannese brak
en sagte pienk polonie
is dalk net shetlandponie.

Maar dis
als die moeite werd:
die arme Britte
kry net perd...


Nie my eie nie, deel net weer.

Spasies

Spasies tussen woorde 
jaag resies deur my kop.
Om en om
sonder ophou,
sonder stop. 
Om uiteindelik te verdwyn
op die eensaam pad
van tweekoedoesmeteenskootdoodgeskietfontein.