Saturday, 15 November 2014

Distrik ses teater

Soos kunstig vlinder vlerke
los jy vlugtig kleurvol spore
in die harte van jou mense

Van vervlenter kaalvoet klonkie
wat vrolik sing in die reën
tot hartseer uitset woede
was op jou verhoog gespeel.

Eenheid in die reënboog 
van jou vlietende bestaan.
Skilder jy die toekomspad
waarop jou nuwe land sou gaan?

Kortstondig was jou vlinderspore
soos trane oor die wang
maar diep getrap in seer onthou
lê jy nog in lief en leed vasgevang.

Sal daar eendag uit die seer-oogvlek
teen Tafelberg se hang
‘n nuwe vlinderdrama
Uit die rommel op kan staan?

©

Tweedehandse doeke

Twintig twintig. 
Nee, nie die visie nie. Dit het die suiker lankal van my gesteel. (hulle maak hoeka nie meer die leesbrille soos voorheen nie. Nou die dag toe ek ‘n nuwe een wil koop werk die nommer een nie meer so lekker nie. Toe moet ek ‘n twee plus koop.)

Ek praat van twintig twintig, die jaar.

My testament het twee baie duidelike opdragte:
1 As ek gaan moet hulle my pajamas aantrek en nog een nag in my bed laat slaap. As die buurman se hond my nie die volgende oggend vyfuur wakker geraas kry nie kan hulle my maar veras, want dan is ek nie meer nie. Die hond moet egter ‘n laaste kans kry.
2 My as moet dan op die winkelsentrum se dak gestrooi word. So sal ek darem seker wees die familie kom besoek my ten minste een keer ‘n maand.

As ek nou teen twintig twintig nog nie by die winkelsentrum rondle nie sal ek sekerlik nie meer met die buurman se hond hoef te baklei nie. Hy gaan na ‘n ander bejaarde huis toe.
My finansies is nou nie van so ‘n aard dat ek dalk ‘n kans het om my lewe te geniet voor daai tyd nie. Ek moet erken dat ek al die Lotto probeer het maar ek het agtergekom dat ek ‘n beter kans het om swanger te raak as om daai wereldbeker te wen.
So wat nou?
Ek is op soek na ‘n stewige tweedehandse kierie wat nog nie baie myle op het nie. Daarmee kan ek darem nog al ratelende agter die mooi verpleegsters aanskuifel.
Dan soek ek ook ‘n goedkoop tweedehandse GPS. Dit moet toegerus wees met Karin Zoid se stem. Dis nou sodat ek my pad terug na my bed kan kry as die verpleegsters vir my weghardloop.

Ek het gister met ‘n slag besef dat ek moet begin beplan vir die jare na die Afrika sokkerbeker. Aangesien ek geen hoop het om uit my huidige spiraal te kom nie wil ek darem seker maak ek het alles wat ek gaan nodig kry vir die bejaarde huis. Teen die huidige inflasie gaan die prys van loopstokke so vinnig op dat ek maar vroegtydig wil begin bymekaar maak.
Ek sal aan die einde van volgende maand weer kom vra vir goed soos oumensdoeke en goedkoop tweedehanse valstande.
Laat weet asb dringend indien u van die items beskikbaar het. Met die spoed van die huidige posstelsel weet mens nooit hoe lank dit gaan neem voor ek dit ontvang nie. Ek wil nou nie he dat die laat aflewering dalk my boedel se afhandeling vertraag nie.

Daai sloot

Daai sementsloot! Dis nou die een tussen die posduifklub en die Bergrivier, al langs die Dassieskool se draad af. Waar hy sy water vandaan kry weet ons tot vandag toe nie. Hy kom net daar uit die grond en eindig stomp op die rivierwal.

Daar was altyd water in die sloot. In die somer was dit weliswaar net genoeg om die sloot se bodem nat te hou. Maar daar was water. Die gedurige nattigheid het daarvoor gesorg dat dit pal met grasgroen mos bedek was. Die mos het daai sloot se bodem glad gemaak. Amper so glad soos 'n graad aggie se mond. Seepglad, verseker ek jou.

Die sloot was so om en by twee meter wyd en so anderhalf meter diep. Om in die sloot regop te staan was amper net so moeilik as om “push ups” te doen met jou tong terwyl jou hande agter jou rug vasgemaak is. Om daarin te loop was so 'n klein bietjie moeiliker. Nou kan jy jouself seker voorstel hoe moeilik dit was om met jou fiets in die sloot af te ry. Enige energie wat spandeer word om die pedale te trap sit om in 'n groen GT-streep van jou kroontjie al langs jou ruggraat af tot waar jou boude die fiets se saal ontmoet, en enige vorentoe momentum neig na zero.

In hierdie sloot het ons dus ure se pret gehad met ons fietse. Gewapen met klein Japie se stophorlosie, wat hy na een of ander atletiekbyeenkoms in sy baadjiesak gekry het, het ons “quotter maail sprints” in die sloot gehou. Wit verf wat uit pa se motorhuis verdwyn het, het wederregtelik in 'n wegspring en eindstreep op die kante van die sloot verskyn. Die vinnigste tyd tussen die twee strepe is gemeet. Aan die begin het dit nie saak gemaak as jy bo-oor of onder jou fiets oor die wenstreep gly nie want die renne het min of meer as volg verloop: Sit die fiets versigtig in die sloot op sy wiele. Terwyl twee of meer van jou maats die fiets regop hou, klim jy versigtig “rodeo style” van bo af op die fiets. Dan hou jy aan die kant van die sloot vas met jou een hand vir balans. (want die fiets se wiele gly sommer sywaarts onder jou uit as jy nie oppas nie) Gereed!......... Gaan! Trap.... trap.... GT streep, gly... val.... bloei... skuif oor die wenstreep met fiets en al.

Soos dit in alle sportsoorte die geval is kom daar met oefening wysheid en beheer. Ons het later besef dat hard trap die wortel van al die kwaad is. Om suksesvol op die slym te ry moes jy stadig en saggies wegspring. Die oomblik as jy haastig raak is dit gly... val.... bloei...ens. Na vele verlore velle en kneusplekke kry jy dit reg om die groen sloot te tem. Begin stadig, tel stadig spoed op, konsentreer op balans en hoera!..... jy’s by die eindstreep verby en nog op die fiets met al jou velle. Nou moet jy stop, rem.... gly... val.... bloei... skuif oor die einde van die sloot, binne in die rivier met fiets en al. 'n Nuwe reël sien die lig. As jy nie veilig stop voor jy in die rivier val nie tel jou tyd vir die “sprint” nie.

Nodeloos om te sê het ons met oefening ook die stop vervolmaak. Daar in die sementsloot is 'n paar slymslootkampioene gebore. Toe niemand meer val en bloei nie was die “sprint” nie meer 'n uitdaging nie. Ons moes nuwe uitdagings gaan soek.

Toevallig was die sloot ook deel van ons volgende uitdaging. Tussen die Dassieskool se draad en die rivier was daar 'n kronkelpaadjie wat die sloot oorgesteek het. Waar die kronkelpaadjie oor die sloot gaan was daar aan weerskante 'n stewige kleiwal wat hoër as die sloot was. Die moontlikhede vir nuwe uitdagings is dadelik deur lede van die waaghalsbende besef. Daar moet met die kronkelpaadjie langs gery word ten einde genoeg spoed bymekaar te maak om die fiets met sy passasier deur die lug oor die sloot te lanseer. Eenvoudig.

My eerste poging was, baie beskaafd gestel, een mo.... helse gemors. Ek gaan haal aan uit Hospitaalstraat, dis waar die paadjie begin het, en stoomroller tussen die bosse deur al in die kronkelpaadjie af. Soos ek die sloot al vinniger nader hoor ek my maats se aanmoediging en uit die hoek van my oog sien ek dat selfs 'n paar van die dassies die petalje met afwagting gadeslaan. Genadiglik is die laaste stuk voor die kleiwal afdraand want ek raak al moeg. Toe ek egter die kleiwal slaan maak ek 'n fatale fout. Ek kyk op. Ek kan nie die sloot sien nie. My keel trek toe en my vingers volg hul eie logika, hulle gryp die remme. Genadiglik werk die fiets se remme nie so goed nie. (al die val in die sloot het daartoe bygedra) Ek verloor dus nie te veel spoed nie. Die volgende oomblik is ek op die kleiwal. Ek sien die sloot en ek besef, nou moet ek maar spring. Ek lig die fiets se voorwiel en styg op. Ek is vry, ek vlieg.

Die aarseling voor die sprong het my egter 'n halwe meter gekos. Net omtrent die voorste tiende van die fiets se voorwiel maak dit oor die sloot. Die res van die voorwiel steek vas teen die bokant van die sloot se wal. Nou kom hier allerhande wetenskaplike wette in werking soos onder andere Newton se wet van traagheid van momentum.(of so iets) Omdat sekere dele van die fiets se voorwiel reeds stilstaan, terwyl die res van die fiets nog teen die spoed van wit lig voortsnel, word die fiets se saal en alles wat daarop is op en oor geslinger. So verbreek ek dan my noue verhouding met die fiets en sit die reis allenig voort. Gelukkig was die kleiwal aan die ander kant nog sag na die vorige jaar se reën want ek val 'n duik in hom. Ek moet darem erken dat ek die trek deur die lug baie geniet het maar die skielike stop teen die kleiwal was nogal onaangenaam. Ek sal dit nie aanbeveel nie. Toe ek nou myself uit die duik in die kleiwal bevry het, gaan soek ek my fiets. Ek kry hom onder in die sloot. Die voorwiel is so gebuig dat enige ordentlike Puc Man onmiddellik troukoors sal kry as hy die wiel sien. Ek moes ook die vurk vervang omdat sy kromming na verkeerde kant toe wys.

As my ma moes uitvind hoekom ek die volgende drie weke skool toe wou stap sou sy nie so mooi verouder het nie. Stres doen lelike goed aan 'n mens se vel.

Dit is nou al dertig jaar later en ek dink met deernis terug aan daardie dae toe ek nog, sorgloos en vry, my lewe in my eie hande kon neem en dit oorleef. Het ek 'n beskermengel gehad? Was my tyd maar net nie daar nie of is dit so dat ons net meer fisiese krag en uithouvermoë gehad het.

“Pa, ek wil gaan fliek in die winkelsentrum.”

My keel trek weer toe. Ek sien pedofiele in die gange sluip, dwelmhandelaars op die roltrappe, verkragters wat in die toilette wegkruip, sakkerollers wat selfone en handsakke uit die kinders se hande gryp, ouens met maskers en lang messe, gemaskerde sopbene met handkanonne ens. Ek staal myself want die kinders sit heeldag in die huis vasgekeer tussen skoolwerk en rekenaars.

“Wag, ek vat jou nou weg. Wie gaan almal saam? Watter fliek gaan julle kyk en hoe laat kom julle terug? Moet ek jou maats ook gaan optel of kry jy hulle daar? Het jy genoeg geld? Is jou selfoon gelaai? Bel my dadelik as daar enige probleme is.” “Julle verlaat nie die sentrum sonder toestemming nie.” ens. ens.

Ek laai hulle by die sentrum af en gaan wag by die huis. My selfoon is gelaai en lê gereed langs my. Ek lees elke bladsy van my boek drie keer. Ek kyk die glas van my horlosie vaal. Ek bid dat hulle lekker sal vlieg terwyl hulle vry is van hul ouers se bande en ek vra dat die kleiwal waarteen hulle dalk moet stop nog nat is van laasjaar se reën.

Ek kyk in die spieël..... Stres doen lelike goed aan 'n mens se vel

Friday, 14 November 2014

Vervlenterde karooklong

Draadstuurwiel in die hand 
naelstring hom aan sy draadkar vas.
Sy kaalvoettone en skurwe hakies 
skop wolkies stof uit die aspad op.
Tanne wat mieliepit-gelid glimlag 
tussen sy gebarste lippe,
waai hy met die los hand
die blink waens by hom verby
om agter hul stofwolk te verdwyn.

Maar as die stof gaan lê 
hol hy nog onverstoord voort
agter sy naelstring-draadkar 
waarvan die visblikwieletjies 
dronk-dwarrel en tjier-tjier.
Ongebonde, ontspanne hardloop hy.
Vodde hemp wapper soos presidentsvlag agterna
as hy sy eie spore deur die land se paaie trek.

Verflenterde Karoo-klong,
met jou skurwe sandsool voete,
jy trap stofwolkies deur my wereld.
Met jou draadkarwiele
los jy dwarrel spore deur my hart.
Swaarkry is jou speelgrond,
sukkel jou leerskool.
Kom leer vir my
in my oorvloed
so glimlaggend gelukkig
soos jy in ‘n draadkar te ry. 

'n Paar Limirieke

Feeverhaal

Koningin Cleopatera
Ook maar skaam toe die prins haar dra
Eers wou sy niks weet
Toe kry sy hom beet
So die prins moes maar ouers vra.


Man van Gibraltar

Daar was ‘n man van Gibraltar
Sy vrou was groot soos ‘n altar
Toe hy wil offer
Pak sy sy koffer
En jaag hom trug na Gibraltar

Gatiep

Gatiep soek ‘n stuk innie Kaap
Sy moet bak en kook in haar slaap
Hy vra vi Meraai
Ma Meraai sê naai
Snags sal djy mos my stofie skraap

Kerrie Koekie

Die meisie kom van Durban af
Haar kerrie sal jou keelgat straf
Trou ‘n boere ou
Die sê magtag vrou
Voer jy my na ’n vroee graf?

Liewe Maan

Liewe Maan

Saggies geel, kom jou lig se strale
waar jy oor die bergtoppe loer.
Jy kom verdryf die vrese
wat nag se donker bring
en gee ons vrede
in ons harte
deur die nag
liewe 
Maan.

Jy trek ‘n streep oor meer se water
reguit na my verwese hart
om met ligsagte garing
die seerkry toe te werk.
Met jou liefde steek
weer stukkend hart
kans te gee
liewe 
Maan.

As ek dan haar hand in myne neem
sal ons tesaam in jou lig staan.
Wyl jou vrede oor ons skyn,
ons die liefde koester
wat jy vir ons gee.
Liefde gevind
In jou lig
liewe
Maan. 

Thursday, 13 November 2014

Wilhelm, Ouma se bors. Sieser en die drom.

Voor in ‘n boek staan daar altyd so ‘n stukkie wat alle verwysing na regte mense as per ongeluk uitskel.
Ek moet ook nou seker so skryf anders is daar dalk mense wat die onderwyser gaan erken. Nou ja, hier gaan ons. 
Alle verwysings na, of stories oor, strokieskarakters is aspris, alhoewel die skrywer nie doelbewus in hulle karakters probeer klim nie. Alle aantuigings is waar behalwe waar die ware feite nie by die storie inpas nie. In sulke gevalle is die feite doelbewus aangepas om die storie meer geloofwaardig te maak.
Sonder om my ouderdom te probeer weggee moet ek nou eers vertel dat daar in my tyd ‘n strokieskarakter bestaan het wat gedurig onder die pantoffelregering deurgeloop het. Nou verwys ek nie na Andy Capp nie maar na Jiggs.
So beland daar in ons standerd 9 jaar ‘n omie wat in die Engels kom aflos. Hy het op ‘n potloodstreep na nes Jiggs van die strokie gelyk, kompleet met die bossie hare bo elke oor, en kort voor lank was hy dan ook bekend as “Ou Jiggs.”
Ou Jiggs was nie opgewasse teen ons klas se unieke sjarme nie.
Die eerste dag wat ons by hom klas het vertel hy vir ons die grap van die seuntjie wat so vreeslik vloek. Dominee hoor die seun praat so vreeslik in tale en berispe hom onmiddelik oor sy aksent. Die seun haak af en antwoord die kerkleier. (En hier moes jy nou eintlik vir Jiggs in lewende lywe sien.. Sy kop vorentoe soos ‘n tiener wat sy eerste soen steel. Sy mond op ‘n plooi soos Popeye met sy pyp. Sy linkeroog toe. Sy linkerhand op ‘n onsigbare meul en sy regterhand wat die meul se slinger hier by sy oor verby draai.) “Daai’s nog boggerol. Oom moes gister gehoor het toe my ouma haar bors in die vleismeul vasgedraai het.”
Van daai dag af het Ou Jiggs daardie grap aan die begin van elke periode vertel nadat Wilhelm hom daarvan oortuig het dat ons nog nie die grap gehoor het nie en dat hy dit al vir die ander klasse vertel het. En elke slag met die nodige handaksies.
Ek onthou daai dag wat ons nie regtig lus was vir Willem Wikkelspies se “Julies Sieser” nie. Staan ons mos ewe in die ry langs die muur af op aandag. Wilhelm voor.
Jiggs kom uit die klas, groet ons en beduie dat ons maar kan instap.
Wilhelm steek vas buite die deur. Buk, en voel met sy hand in die deuropening asof daar ‘n tou in die deur gespan is. Klim dan versigtig oor die “tou” en stap na sy sitplek toe. Ons ander vang onmiddelik wat aangaan en so voel en klim almal oor die onsigbare “tou” in die deur.
Ou Jiggs het die storie staan en gade slaan. Toe almal in is steek hy ook voor die deuropening vas. Hy voel en ondersoek daai opening maar kry niks. Hy skud op die ou end sy kop. En klim toe ook maar veiligheidhalwe oor die “tou.”
“Wanneer gaan Meneer vir ons daai grap vertel?”
“Watter grap?”
Wilhelm steek sy kop vorentoe, maak sy linkeroog toe, trek sy mond op ‘n plooi en met sy linkerhand op die onsigbare meul draai sy regterhand die slinger by sy oor verby. “Die grap van die vleismeul, Meneer”
“Maar het ek dan nie al vir julle vertel nie?”
“Nee. Meneer het vir die A2 klas vertel.”
En daar draai die ouma weer haar bors in die vleismeul vas en ons lag te lekker omdat 
Jiggs weer daarvoor geval het.
Leesboeke uit en gou, gou is Jiggs in sy eie wereld van Sieser en sy hogere Ingels.
“Caeser! Why doest thou lie so low!” Sien Wilhelm deur die venster verdwyn.
Voor Ceaser kan antwoord: “Someone puteth a banana peel under my shoe-eth” Verskyn Wilhelm in die deur met ‘n vuilgoeddrom. Saggies en versigtig word die vuilgoeddrom langs Jiggs se stoel neergesit en Wilhelm is weer uit by die deur en terug deur die venster.
Die klok lui. Jiggs sit sy boek neer, staan op en val oor die verdwaalde vullisdrom. 
Ons verdaag en klim weer oor dieselfde “tou” in die deur. 
Toe ek wegstap kyk ek om en kry vir Jiggs jammer waar hy sukkel om die verdwaalde vullisdrom oor die onsigbare tou te tel.

Wilhelm spook met biologie

Biologieklas. Die enigste klaskamer met twee deure. Een lings voor en een regs voor.
Tussen die twee, die werksbank/lessenaar en die swartbord.
Teen die linkerkantse muur was daar nie vensters nie maar kaste met glasdeure. Vanuit die kaste het witgebleikte gebeendere en kopbene vir jou gegrynslag. Uit een kas het rye glaspotjies gestaan waaruit fetusse, in verskillende stadiums van ontwikkelings, vir jou gewaai het.
Die klaskamer was taamlik hoog gebou en die agterste en regterkantste mure het outydse vensters gehad. Daai houtrame wat op en af geskuif het met die klein blokkies glas.
Agter in die klas, aan die linkerkant, was daar ‘n valdeur in die vloer.
Soos gewoonlik het Wilhelm agter in die klas gesit. By die venster en die valdeur.
Die Biologie onderwyser was met langverlof en is afgelos deur ‘n ouerige afgetrede dame. Om die waarheid te se, sy was al by bewe-oud verby. Jy weet mos. Daai stadium waar sy nie meer haar koffie hoef te roer nie. Sy tel net die koppie op. 
Met alle nodige respekte het ons haar “Oumatjie” gedoop.
Binne die eerste paar lesse kom ons agter dat Oumatjie ‘n senuweeagtige wese is wat ook met ‘n bietjie verstrooidheid stoei.
Dit laat Wilhelm besluit om die water te toets.
Hy stap eerste die klas in, sit sy tas by sy bank neer en klim dadelik deur die agterste venster. Ons besef  hier kom ‘n ding en Oumatjie is vreeslik in haar skik dat ons “vandag so soet is.” 
Sy het net begin klas gee toe daar ‘n klop aan die linkerkantste deur is. Ons ignoreer dit en sy moet self oopmaak.
Dis Wilhelm. Hy verduidelik grootoog aan Oumatjie dat hy die vorige periode sy tas agter in die klas vergeet het. Sy teken heftig beswaar aan want sy het nie die vorige periode klas gehad nie. Wilhelm wys egter na die lee bank met die eensame tas daarnaas en sy laat hom maar toe om die tas te gaan haal.
Toe Wilhelm weer uit is begin ons deur vir Oumatjie te vertel dit spook in die klas met sy baie kopbene en fetusse. Blykbaar glo sy nie in spoke nie.
Tien minute later is daar ‘n klop aan die regter deur. Wilhelm is vreeslik jammer dat hy laat is vir die klas want hy moes eers die skoolhoof gaan sien. Hy wys haar die “briefie” van die skoolhoof. Sy frons maar laat hom in. 
Terwyl sy die werking en funksies van die alveoli verduidelik verlaat Wilhelm en sy tas weereens die klas deur die agterste venster om te gaan vars lug skep. 
Tien minute later. 
Dringende klop aan die deur.
Wilhelm. Vol grond en swart hande. Jammer hy kom nou eers by die skool aan, maar sy fiets se wiel het gebars en toe val hy van die fiets af.
Maar jy was mos al in die klas?
Nee Juffrou. Juffrou het haar seker verbeel. Vra maar die res van die klas. (wat natuurlik saam met Wilhelm stem) 
Volgende biologie periode vind ons al die glasdeure is met swart papier toegemaak en Wilhelm word soos ‘n valk dopgehou. (Terwyl ons hom ignoreer soos ‘n stopstraat.)
Oumatjie kry ‘n besoeker en terwyl sy hom by die deur afsien verdwyn Wilhelm en sy tas in die valdeur onder die vloer in. 
“Waar is Wilhelm?” Wil sy dadelik weet toe sy weer terug is in die klas.
“Hy was nog nie vandag in die skool nie Juffrou.”
Oumatjie word wit en gaan aan met die les.
Intussen het Wilhelm tot onder die linkerkantse deur gekruip. Hier aangeland gebruik hy sy liniaal en klop aan die houtvloer by die deur.
Ons ignoreer die dringende geklop tot Oumatjie maar opstaan en die deur gaan oopmaak. Niemand.
Sy kyk op en af in die gang, maak die deur toe en gaan weer aan met klasgee.
Weer die klop. Weer maak Oumatjie oop. Weer niemand.
Dit herhaal so drie keer voor Oumatjie besluit sy maak dalk verkeerde deur oop. Sy loop na die ander deur. Ook niemand.
By die tyd steek Oumatjie se gesigverf al helder af teen haar bleek gesig. Blykbaar is dit net sy wat die geklop hoor.
Weer die klop aan die deur. Weer maak Oumatjie oop. Weer niemand. Die keer maak sy die deur toe maar bly staan met die deurknop in haar hand. 
Sy wag.
Wilhelm wag.
Sy wag.
Wilhelm het lank genoeg gewag. Hy klop weer.
Oumatjie ruk die deur al op die eerste klop oop. Daar staan sy by die oop deur. Niemand by die deur nie maar die geklop gaan nog so bietjie aan.
Oumatjie storm daar uit. Reguit na die hoof se kantoor.
Ons was vir twee weke sonder biologie onderwyser voor Mnr. Smit daar kom aflos het.

Wilhelm doen Wiskunde

‘n Bekende man het eenkeer gesê: “Somtyds sit ek so en dink. Somtyds sit ek net so. Meeste van die tyd sit ek net so.”
Dit was ‘n warm somerdag. Moeilik om te konsentreer.
Net na tweede pouse word ons al swetende in die wiskunde klas ingetrop deur ‘n oorywerige wiskundeonderwyser wat net uit die lugverkoelde personeelkamer ontsnap het.
“Middag Matrieks. Sit asseblief.”
Hier in metriek het ‘n mens nou eintlik al die ou skuins skoolbankies met die outydse inkpotgaatjie so ‘n bietjie verby gegroei. Sit is dus ‘n prosessie op sy eie. Dus. Magies in, heupies buig. Parkeer jou boude op die klein sitplankie deur na die middel in te skuif. Nou haal ons boeke uit.
Toe almal stil sit raak daai onderwyser in vervoering oor sy vak, ruk daar ‘n stuk wit bordkryt uit en begin skrywe op daai swartbord dat die wit stof soos weskus mis op hom toesak. So tussenin praat hy aanmekaar. Vir die volgende halfuur probeer hy sy beste om sin te maak uit cos en tan. Deel die oorstaande sy met die skuins sy om die hoek te kry waarteen die cheetahs die Stormers gaan aanval ens.
Intussen sit ons maar so.
Agter, teen die muur het Wilhelm afgesak in sy bank. Soveel so dat dit lyk of hy op sy derde nekwerwel sit. Net sy kop en skouers steek bo die bankie uit. Sy oe staar na ‘n onsigbare punt teen die dak wat net hy kan sien.
Wilhelm is nie ‘n roker nie maar tussen sy wys- en middelvinger knyp hy behendig ‘n potlood vas. So elke nou en dan trek hy ‘n diep skyf aan die potlood en kap dan rustig die as af in die inkpotgaatjie wat blykbaar ook as asbak dien. Denkbeeldige rook sirkels word in die rigting van die onsigbare punt teen die dak gemik.
Moontlike eksamenvraag. As die houtkapper twintig meter van die boom staan en teen ‘n hoek van 30 grade na die boom se top opkyk, hoe oud is die bokkie wat agter die boom staan.
Meneer se gesig verskyn uit die wit stofwolk wat voor die bord hang. Sy gesig is wit.
Hy bemerk die toestand waarin Wilhelm homself bevind. Sy gesig word nog ‘n skakering witter maar sonder om op te hou praat begin hy Wilhelm sin vir sin bekruip soos ‘n cheetah.
Wilhelm kyk nog onbewus na die dak.
Cheetah se kind beweeg al pratende tussen die banke in.
Wilhelm staar nog onbewus na die dak.
Die cheetah stop langs Wilhelm.
Wilhelm bekyk nog die dak.
Skielik slaan die cheetah toe: “En wat kan ons vandag vir jou doen, meneeeeeerrrr!” Kap die kloue diep in Wilhelm se bewussyn in.
Vir ‘n oomblik rek Wilhelm se oe toe hy besef hy is nou binne in die brommer bollie. 
Dan ontspan hy.
Stadig, nadenkend, bring hy die potlood na sy mond. 
Hy vat nog ‘n lang teug.
Dan beweeg die potlood na die inkpotgaatjie en die “as” word met mening afgeslaan. Wilhelm kyk stadig op na die meneer se gesig wat nou begin kleur kry.

“Maak dit maar ‘n dubbel. En moet asseblief nie die ys en soda vergeet nie.”

Somtyds stik ek so. Somtyds lag ek so. Meeste van die tyd stik ek so.

Onse Wilhelm

Kyk, onse Wilhelm was ‘n stoutgat by uitstek.
Oom Jan het hom “Wil... HEL... hum met ‘n Ha vir ...” genoem.
Ek moet vandag eerlik erken dat my skoolloopbaan maar saai sou wees sonder Wilhelm.
Ons standard 9’s was mal oor ons Afrikaanse taalonderwyseres. Sy was nog sommer blink van die universiteit af en nie veel ouer as ons nie. Pragtig. Regtig ‘n lus vir die oog in ‘n seunsskool.
Donderdae het ons Afrikaans voorgeskrewe lesse by haar gehad, net na Liggaamsopvoeding. Ons het altyd almal seker gemaak dat ons vars gestort is na die harde oefeninge. Destyds was miggiepis soos Rightgaurd en daai goeters wat jy onder jou arms spuit nog nie juis algemene gebruik nie. Nee wat, bad uit ‘n blikkie was vir sussies.
Wie se idee dit was kan ek nou vandag nie meer onthou nie, maar daardie Donderdag stort ons weer. Wilhelm draai so bietjie lank onder die stort en sy onderbroek besluit om maar solank sonder hom saam met ons klas toe te gaan.
Wilhelm was ongemaklik laat vir die voorgeskrewe klas.
Met die inkomslag mompel hy ‘n onverstaanbare verskoning van verdomde vriende wat mens onnodig laat soek en nog ‘n paar onverstaanbare geluide. Juffrou sien seker iets is verkeerd en sy laat maar begaan.
Juffrou begin voorlees uit ons voorgeskrewe boek, Bonga. Dit is juis ons gunsteling stuk waar hy wat Bonga is by die rivier met die swart kind kafoefel.
Soos juffrou verdiep raak in die storie begin Wilhelm se gesig klankloos pleit. Hy vra sonder woorde waar sy onderbroek is terwyl die swart meisie se voete in die rivierwater skop.
Bonga maak klaar en die onderbroek maak sy verskyning aan die ander kant van die klas. Wilhelm se gesig vertrek weer en beveel die onderbroek woordeloos om dadelik terug te gaan na sy eienaar. Maar heellaas... Die verdomde onderbroekding het ‘n wil van sy eie. Terwyl Bonga agter die wit meisie aanflenter begin die onderbroek deur die klas hoereer. Van hand na hand word hy rondgegooi maar hy vermy Wilhelm se grypende hande soos die rinderpes. 
Die opgewonde gejaag agter die verwilderde onderbroekie aan raak al dringender en wilder.
Dis toe Bonga sy pasgebore swart kind se kop met sy hakskeen verbrysel wat Wilhelm opspring van sy stoel af in ‘n desperate poging om die losbandige onderbroek in sy uitgestrekte vingers te kry.
Dis oor die geraas wat juffrou onraad ruik. Sy gooi vir Bonga op die tafel voor haar net toe die vliegende onderbroek ‘n perfekte driepunt landing voor haar op die tafel maak. 
Eers raak sy wit van kwaadgeit en toe rooi. Rooi toe sy die voorwerp van haar toorn erken.
Wilhelm het intussen al sy bloed verloor en hang soos ‘n witgebleikte flennielap oor sy stoel se rugleuning.
Juffrou tel die kledingstukkie versigtig tussen duim en voorvinger op terwyl haar pinkie vies sy neus eenkant toe optrek.
“En wie s’n is dit die!?” Drup dit stadig oor haar dungetrekte lippies.
Ek vermoed sy gebruik daai Jockey vandag nog as boekmerk in haar Bonga.

Inleiding

Ek het so bietjie in die skrywerswoestyn beland na Woeste Willie en ander ware liegstories. Daar is egter nog ink in die ou man se pen. My skrywes loop die hele internet vol. Van Woes tot Die Afrikaanse forum tot my faceboek blad. Van die skrywes al verloor agv PC's wat oppak ens.
Ek is tans besig om 'n tweede "ware liegstories" saam te stel waarin ek ook 'n paar van my gedigte en Aspoesterjie (sonder die "t" is reg) se stories wil saamgooi. Sy is 'n fiktiewe karaktertjie uit die Lankloof wat ek geskep het.
Ek wil hierdie blog gebruik om al die griffels bymekaar te maak. Ek sal dit plaas soos ek hulle opspoor so dit sal nie kronologies verskyn nie.
As jy so nou en dan hier 'n draai wil maak en 'n komtaartjie wil gooi is jy welkom. As die skryfwerk jou verveel vra ek askies.
Hou asseblief in gedagte dat ek steeds alle kopiereg op alle werk hier voorbehou. Die werk mag dus nie sonder toestemming versprei word nie.