Wednesday, 19 August 2015

In die arms van 'n rolbos

In die arms van ‘n rolbos
deur die wind verwaai,
rondomtalie ek leegkop voort
teen die spoed van witlig na nêrens

Leegkop, willoos rondomtalie
soos die swaaie by die sirkus,
jaag ek deur die lewe
In die arms van ‘n rolbos

Takke breek en spat
soos ek die vlaktes jaag.
En my stukke dekkend die stofveld, 
word deur die wind verwaai.

Geen beheer, geen einde...
Net ‘n dolle jaag na more...
Sonder rigting. sonder kompas
rondomtalie ek leegkop voort.

Oor bosse en deur grensdraad
huppel en bons ek prettig.
Onbevange snel ek aan
teen die spoed van witlig na nêrens

Ja, teen die spoed van witlig na nêrens
rondomtalie ek leegkop voort
deur die wind verwaai
in die arms van ‘n rolbos


Naas ©

Thursday, 16 April 2015

Agter die Lyk

Verstaan my nou mooi. “As hierdie vrou ‘n bang haar op haar se kop wil het, dan moet sy nou staat en pruik dra.” Maar die versigtigheidse vir die dooies, daai’s nou vir jou ‘n annerse versigtigheidse.
Ek is nou nie een vir lang storietjies gesels nie maar die storie gaat nou eigentlik so:
Ek kom da vannie Noordkaap af. Annerkant Springbok is my geboorte mos op Nababeeb gepleeg. Myse familiese bly nog doeriekant toe uit.
Myse eksman is vannie Kaap en hy het my doer innie Noordkaap by myse ma-hulle gaan wegsteel. Dertien jaar later los hy my mos wragtag virrie anner meid vannie Kaap self af en ek sit met ‘n kjend wat moet skool klaarmaak en ek bly toe maar hieso in Lot se Sodom en Cremora, die land van poeiermelk en trane.
So het my ma se oom se tante se niggie se seun, Gert, ook agter ‘n stukkie Kaapse vy aan hiernatoe getrek.
Smoorverlief, so smoorverlief, iemand was weer ‘n hartedief… (Almal het hom teen die Eva gewaarsku maar liefde het mossie gehoorstukke nie.) Smoorverlief en halfpad mal, iemand het weer pens en pootjies innie gat geval.
Skaars drie maande hier los sy hom vir ‘n anner meisie.
Drie uur die oggend gooi myse ma my met die langlyn. Ek skrik myselwers in ‘n ander bevolkingsgroep in toe die phone hier neffens my skreeu en weet sommer, die tyd vannie nag is dit net duiwelsgeselsies.
Gert het die ding met die meisie glad nie verwerk nie en homself met ‘n rewolwer in die kop verongeluk, vertel my ma my. Ek is nou die naaste familie en sal ek asseblief die lyk gaan naamgee daar by die dooiehuis in Mowbray in. En sy gee vir my ‘n nommer om te bel vir die afspraak.
Bang ek maak die dooies wakker bel ek die nommer eers tien oor nege die oggend en vra wanneer dit dan nou gepas sal wees om vir Gert Koch te gaan kuier.
Enige tyd deur die dag kan ek maar kom, maar ek moet vra vir nommer een zero sewe want hulle inwoners het nie name nie.
Ek trek net da myse beste rompie en bloes aan, paint myse lippies met daai duur lipstiffie wat oorle Madam se dogter vir my gegee het omlat oorle Madam nie meer daarvan gebruik sou makie en ek gee myselwers somma da innie voorhuis van myse eie kaia ‘n mannikeer. My laaitie probeer nog vir syse ma te vertel dat die rok darem nie ‘n begrafnisrok is nie maar ek seg net dat Gert nie meer gaan omgee hoe my rok lykie. En ek klim daar innie taxi wat Mowbray toe gaan. Ek ry nie gewoonlik taxi nie maar dink toe nou so dat, as die taxi dit nou nie vandag tot innie Mowbray maak nie dan sal ek darem sekerlik met die rooilig vleiswa by Mowbrey afgelaai worre.
Gelukkig maak die taxi dit al die pad en laai my lewend voor die dooiehuis af.
Ek swaai my boude da deur die voordeur en loop na die anti agter die toonbank toe.
“How can I help you Doll?” vra die aunti terwyl sy haar lang rooi naels deur haar wimpers inspeckt.
“Nei Aunti, ek kom kyk net of number one zero sewe en Gert Koch dieselfde dooie man is.”
“Ek issie djou Aunti nie. Was Gert Koch family van djou?”
“Skiestog Aunti. Ja Aunti, aan my ma se kant Aunti, maar die res van die family is te ver van hier af om self te kom kyk.”
Daai Aunti druk daar ‘n knoppie en ‘n man in swart klere met ‘n stokstywe gesig kom van agter af in.
“Dis ‘n besoeker vir one zero sewe. Is sy reconstruction en makeup al kla?”
Die man kap vi Aunti ‘n flat ignore.
“Kom saam asseblief.” Wys die stywegesig man my die pad sonder om sy lippe te beweeg.
Hy vat my daar in ‘n yskoue kamer in en ek wens dadelik ek het liewer ‘n langer rok aangetrek. Die een muur is vol stainless steel deure met nommers op. Hy stap tot by one zero sewe en trek. Dis toe al die tyd ‘n laai en oppie laai lê Gert in sy adamspak. Ek weet dadelik dis hy want my naam is op sy binnebeen getattoo.
Ek kry hom sommer jammer omlat hy nou sou vyeblaarloos in die koue kamer moet lê. Dan kyk ek na sy kop want dis mos waar hy van loodalergie omgekom het.
EK vra vir die man wie Gert se kop so mooi reggemaak en hom so lifelike gemakeup het.
“Ek doen alle rekonstruksie en grimering self op al ons kliente.”
Ek wonder in my binniste of hy na ure beskikbaar is. Met sulke werk op ‘n dooie gesig, dink net wat hy met my gesig en my bubbling personellity kan uitrig. Ek kan dalk ‘n kans staan om weer vir seun ‘n ordintlike pa te vang.
“Is u seker dat dit die liggaam van ene Gert Koch is wat voor u lê?”
“Dis beslis Gert daardie.”

Oorle Gert se planting is bespreek vir die Saterdag en die stywegesigman laat my weet dat hulle Vrydagoggend so 10:00 se kant die lyk Springbok toe kan vat vir R4900. Ek sluk so groot wind, dit smaak my ek dryf soos ‘n ballon ceiling toe.
Ek bel my eks man se halfbroer. Hy het mos sy eie Taxi. Hy se dis reg, hy sal die Taxi se agtersitplek uithaal vir die kis.
Half sewe namiddag stop daai Taxi voor my deur, kis klaar gelaai.
Ek vra vir halfbroer of hy seker is dis one zero sewe innie kis.
Hy sê nei dis reg.
Ek en drie vriendinne, wat lief is om agter die lyk aan te loep, klim in en daar trek ons.
Ek het die company saamgenooi want halfbroer kan ma lekka vatterig raak en met die swaarte vannie omstandigheidse is ek mos nou nie lus vir rokoppas ok nog nie. Djy wiet mos.
Dis warm maar ons vorder goed tot by Citrusdal. Daar moet ons stop want van daar af tot op Springbok is dit ‘n stop-ry storie omlat hulle aan die pad werk.
By die eerste stop kom ek agter daso is ‘n klankie innie taxi. Amper soos iemand wat gjestraand kool gevreet het en nou met ‘n stukkende skejous sukkel. Ek kyk vir Martha maar haar gesig vertel vir my issie sy gawiesie. Ek skuif maar ‘n venster oop want dit raak hoeka bedompig daso innie taxi.
Terwyl ons ry waai da ‘n lekka fris windjie by die venster in en die gesels tel lekker op.
By die tweede stop swets halfbroer ‘n woord wat ekkie kan herhaal nie want kjenners onner 18 mag dalk ok hieso lees. Wat’s fout vra ek hom.
“Spietkop.” Is al wat hy uitkry.
Nou wiet ek mos alle taxidrywers is allirgies vi spietkopse maar ons is mos nie oorlaai nie so wavoor sallie verpesting ons nou stop.
“Net omla ons ‘n taxi is.” Laat weet halfbroer.
“Ma djy hoef mossie bang te wiesie. Ons doen mos niks vekeerd nie.”
“Ek hettie ‘n liksens om die lyk te vevoerie.”
Nou moet ons planne maak.
Die spietkop klim uit sy kar uit en mik onse kant toe net toe daai bortjie vir ons omdraai na ry toe en halfboer wat voor innie tou staan trek da weg soos Mykel Skoenmaker in Monakoe. Ek sien so innie vibygaan hoe die spietkop in sy kar spring ma daar is nou ‘n hele string karre tussen ons en hom en dis gelukkig net ‘n enkelpaaidjie.
Toe ons die stop-ry uitry sien ek ‘n plaat bome met ‘n aftrekplek en ek skrou vi halfbroer “agterie boeme in!” ma hy het hoeka ok kla daai move gescheme en ons verlaat die pad dat djy net sien klippe spat en skuif letterlik dwars agter die bome in. Met die lat die taxi nou so bokspring hoor ons net ‘n helse slag soos daai kis agter innie taxi hop en dit klink kompleet of Gert wakker geword het van die skielike rowwe behandeling en nou teen die binnekant vannie kis hamer. Ons vyf ruk daai taxi se skuifdeur oop en pribeer almal gelyk wegkom vannie lyk af. In ons haas is ek en Samantha gelyk in die deur en dit wil nog lyk of ons daar gaan vassteek toe stamp die tweede golf van drie ons van agter en ons skiet soos jolige sjampanjeproppe al skrouende by daai deur uit. Ek sien nie vir halfbroer wat toe al klaar buite issie en hardloop hom uit die gond uit in my haas om afstand vannie taxi af te kry.
Dit vat ‘n goeie tien minute om die spulletjie tot bedaring te kry. Die spietkop is saam met die string karre verby sonner om ons te sien en ons maak reg om terug te klim innie taxi in.
Samantha eerste. Sy steek innie deur vas en sak soos ‘n vrot vel inmekaar. Met die lat sy voor my val sien ek oor haar skouer die man oppie agterste sitplek sit. Ek skrik myself spierwit en wonder of ek nou vir ‘n blanke ID kan aansoek doen, draai om en spring net daar terug in halfbroer se arms in. Die ander drie hol pad toe. Ons het hulle later drie kilometer verder weer gekry en na lang gesukkel ooreed om weer innie taxi te klim. Al drie opsluits langs halfbroer op die voorste sitplek.
O ja! Die man.
Nee, toe ons nou ‘n tweede keer so skrik toe klim hy uit en ek sie in die skemering dis issie Gert nie. Hy verduidelik dat hy onder die bome gesit het om te rus. Hy het solank ingeklim terwyl ons so buite ronddans. Hy soek ‘n geleentheid Springbok toe en dit is mos ‘n taxi. Maar hy sal maar eerder wag virrie volgende taxi want hy sal dit nooit hou in die doodsreuk wat in hierie taxi hang nie.
Hy’s toe reg. Die reuk innie taxi is swaarder as voorheen. Die kis het oopgespring met die dat die taxi so gehop het. Halfbroer moes eers die deksel weer mooi terugsit en ons tasse bo-op die kis pak om te keer dat die deksel weer afkom. Ons hou hom mooi dop want nie een van ons het lus om met Gert oppie skoot te eindig nie.
Oop vensters ry ons, vier voor en ons anner twee so ver vorentoe as moontlik.
Dis by die vierde stop-ry wat die spietkop sy kans kry. Gelukkig is die ou ook al moeg en al wat hy wil weet is hoekom daar vier van ons voor innie taxi ry terwyl daar net twee agter innie taxi is. Halfbroer hap nog innie lug rond toe vertel ek daai spietkop hy mos kan sien dis vol voor, dis hoekom ons twee maar agter sit.
Ons ry by twaalfuur verby. Niemand maak ‘n oog toe nie.
Tien oor twaalf toe kom daar snaakse geluide agter uit die taxi uit. Eers saggies en toe al harder. Dis snorkgeluide. Ons raak stil en daai lyk snork al harder. Ek sê vir Samantha ek ken vir oorle Gert goed. Dis sy snork daai.
Halfbroer willie stop ie. Hy sê solank Gert snork slaap hy, en ‘n slapende lyke kannie spook nie.
Die taxi gaan deur ‘n slaggat. Ek kyk om en gil. Daar sit wragtag ‘n vrou in ‘n wit trourok op die agterste sitplek. Sy waai vir ons.
Ons baklei nou al gillende en histeries met halfbroer.
Hy moet stop.
Ons wil uit.
Hy kyk in sy spiëel en wil weet waaroor ons so aangaan. Gert slaap nog.
Ons kyk terug.
Die bruid is weg. Dis net die rustige gesnork agter innie taxi. Moes my verbeelding gewies het.
Soos alle vroue weet raak mens mos nou maar later aan die man se gesnork gewoond en dan sluimer jy ok mos maar in. So raak dit dan ook stil voor innie taxi en net halfbroer is nog wakker.
Ek raak wakker met ‘n swaar hand op my skouer. Ek fokus stadig. Dis wragtag Gert wat oor my staan en wys ek moetie skreeu nie. Hy praat niksie maar beduie na homself en dan na agter inne taxi en skud sy kop heen en weer. Hy probeer vi my laat vistaan issie hy innie kis nie. Ek skud my kop op en af. Ek verstaan. Gert flikker uit en verdwyn.
Dis toe ons Springbok inry wat alles gelyktyrig passeer.
My foon lui.
Die lyk hamer teen die binnekant vannie kis en die geraas maak die man onder die agterste sitplek wakker.
Halfbroer stop en ons is weer twee twee by die taxi se deure uit.
Ek antwoord my foon. Dis die dooiehuis wat wil weet waar ons is. Ek lig hulle in dat ons nou net in Springbok gestop het en dat die lyk benoud raak in die kis.
Die lykswa met Gert (one zero sewe) is tien minute agter ons en ons moet onder geen omstandighede die kis in die taxi oopmaak nie. Dit is one zero nege wat gister middag ingekom het en hulle het per ongeluk die verkeerde kis oppie verkeerde taxi gesit.
Toe begint ek te vistaan. Die ou innie kis is vir dood opgetel omlat hy al so gestink het en by die dooiehuis afgelaai Toe die dokter kom om die sertifikaat uit te maak dat hy dood is kom hulle agter hy is saam met ons. Dit lyk nou of hy noggie vi Petrus ontmoet het nie en nou uitgeslaap in die kis le en raas.
Die man van “agter die bome stop” het toe maar ingeklim omlat hy bang was hy kry nie ‘n anner lift nie en onner die agterste bank aan die slaap geraak. Hy klim nou uit die taxi uit, skud sy klere reg, bedank ons vir die lift en gaan padop.
Al wat my nou nog pla soos ons terugry huistoe na die begrafnis is: “Wie was daai vrou innie trourok op die agterste sitplek wat vir my gewaai het?”

Slim verstaan verkeerd

“Jaa!” Sug Oupa terwyl hy die warmte van sy koppie moer afblaas. “Die Duiwel is maar net slim omdat hy al oud is en nie omdat hy die Duiwel is nie.”
Gister kom Oom Piet Setpil hier aangekuier. Dis nou pa se broer wat hoof van die Ko-operasie op Willowmore geword het omdat hy ‘n graad in gatkruip het.
Sy jongste seun, Jan Voorslag, is by hom. Die het verlede jaar Metriek geslaag. Sy twee beste jare op skool was die twee in graad 4. Daarna het Oom Piet homself vir die skoolraad beskikbaar gestel en Jan het elke jaar ‘n paar gatvelle in die vorige graad gelos maar hy het darem nie weer ‘n graad herhaal nie.
Ons, ek en Oupa, gaan wys hulle die plaas.
Oupa is nou nie ‘n klaboer nie, maar hy is tog bietjie bekommer omdat ons nou so sukkel met die nuwe stoetbul wat nie kan ruik nie. Hy noem toe ook vir hulle dat ons vanjaar bietjie sukkel met die min kallers wat gebore is. Jan spring toe ook dadelik in en stel voor dat dit sal beter gaan as ons die grensdraad tussen die bulkamp en die koeie verwyder. Oupa byt amper sy pypsteel af maar hy sê niks.
Soos ons verder loop raak Oupa al stiller en Jan Voorslag se lippe al losser:  Hier sou hy pampoen geplant het… Die skape moet nie daar wy nie want… Die leivore is te diep. Die hoenderhokke moet meer dakplate kry…
Ek is later seker die mannetjie het verbale diarrhea en mentale konstipasie maar sy lip-epilepsie kry nie einde nie.
En so boer Jan Voorslag ons toe nou daai dag amper van ons plaas af.
Met die terugstap huis toe hou Oupa sommer reguit verby na hulle handeviervoetbakkie toe en nooi hulle nie eers vir koffie nie.
Voor hulle ry wil Oom Piet Setpil weet of Oupa nie ‘n plaasvoorman soek nie want Jan Voorslag soek werk.
Oupa steek sy pyp rustig op. “Weet jy Piet, ek het nou mooi geluister na Jannie se berading vandag. Ek dink nie hy sal ‘n goeie voorman wees nie. Jy moet hom maar daar by jou in die ko-operasie werk gee waar hy sy slegte raad aan die boere kan voorsien want sy bek het nie brieke nie.”
Soos ons die vier by vier stofwolk agterna kyk sê Oupa. “Jong Assie, die skoolgoed leer die kinners ook slim, maar as hulle eers met hul klaar is, verstaan die spulletjie nog maar steeds boggerol met ‘n groot F.”

Sunday, 12 April 2015

My sussie se troue

My Sussie moes toe mos loop trou.
Ek sukkel vandag nog om agter die kap van die byl te kom want toe ek vra hoekom, mompel Oom Suinige Hans se seun iets van “oppie paling” en Sussie praat van die gemeenskapsaal. Maar die troue was toe in die kerk en die onthaal in die skuur op die plaas. Daar was ok g’n paling op die spyskaart nie, net snoek. Sussie sê ek moet haar verstrooide jonker wees... of is dit nou pronker? Nee... ek is seker sy't gesê "jonker".
Maar in elk geval…
Oom Suinige Hans gee geld dat ek vir my ‘n pak klere by Mouritz Uys Boutiek kan gaan koop. Hy sê ek kan nie soos ‘n Japie vannie plaasaf lyk op sy seun se troue nie. My pa sê hy’s net snobberig… of is dit nou snotterig? Nee sies, dis seker snobberig. My pa sal nie so lelik praat nie.
Toe ek daar by Mouritz Uys Boutiek instap kom daar so ‘n mannetjie met knypboutjies en ‘n lapliniaal om die nek vra of hy kan help.
Ja, sê ek, Oom Suinige Hans het gesê ek moet ‘n pak klere by hom kom koop. En ek gee vir hom die brief wat sê hy moet die geld op Oom Suinige Hans se rekening sit.
Skielik kry daai mannetjie koud want hy vryf sy hande saam en sy ogies blink.
Hy begin my invra oor my mates. Wil my borsmaat weet en my waistline. Maar toe ek vir hom verduidelik dat my borste al van babadag maats is en ek nie weet wat ‘n waistline is nie raak hy vatterig.
Hy trek daai lapliniaal van sy nek af en begin my opmeet. En het hy my nou bemeet. Dis eers my binnebeen en toe my lengte en toe my binnebeen en toe my borsmaat en toe rondom my heupe. My nek en rondom my heupe en net om seker te maak, my binnebeen.
Ek begin later die aandag geniet en as hy my arms en bene meet dan span ek my baaisiekelseps en my traaisiekelseps en die mannetjie oe en a net die heeltyd.
En eintlik is hy opgemeet en hy pak daar ‘n spul kispakke en hemde en dasse van die rak af. Dis nou glo volgens my mates net vir aantrek maar ek moet darem eers gaan aanpas.
Die broek is te lank, maar ek moenie bekommerd wees nie, hy sal dit afsteek en dan sal hulle tyler dit sommer vir my soom. Ek sê “Nee maar dis reg so”
Hy gee daarby ‘n hemp en ‘n bloedrooi das. Die rooi van die das tel glo die rooi strepies in die grys van die pak op. Ek sien nie die rooi strepies nie maar wil nou nie onnooslik klink nie en sê net dis reg so. Toe gee hy nog ‘n paar vaal sokkies en spieelswart skoene daarmee saam.
Die oggend van die troue is ek al vroegdag in my nuwe klere. Ma sluk eers ‘n paar maal en sê toe dat ek goed lyk in die nuwe pak maar my spieel het vir my vertel ek lyk soos ‘n onderstebo termometer met die rooi das aan.
Toe Sussie uit die kamer kom in haar trourok lyk sy mooier as wat daai prinses destyds gelyk het toe sy daai bakoor prins by Kamelia Vulpen afgevry het.
Daar’s ‘n klop aan die voordeur. Toe ek oopmaak staan daar ‘n lang lel met ‘n pikkewynpak en ‘n swart keps op.
“Is dit die bruid se woning?”
“Op die oomblik nog, ja.” Antwoord ek.
“Haar vervoer is hier.”
Ek roep vir Sussie en sy sê ek moet saam met haar ry want ek moet haar sleep dra.
Nou verstaan ek nie hoekom hulle dit ‘n sleep noem as iemand anders dit moet dra nie maar ek weet niks van troues af nie en ek wil nie onnooslik klink nie, so ek vra maar liewerste nie.
Ons loop uit buite toe.
Daar staan ‘n lang slap kar. Sussie sê dis ‘n Limoezien. Sy agterdeur is mooi by ons hekkie geparkeer maar die voordeur kuier by die bure.
Die lang pikkewynman help vir Sussie in die Limoezien in maar ek moet self inklim.
Die pikkewynman klim voor in en vra of ons gemaklik is. Hy trek weg.
Ek weet nou hoekom bruide altyd laat by die kerk kom. Daai pikkewynman was al by die kerk, toe kom ek en Sussue nog by die stadsaal aan. Hy ry ewe windgat om die kerk en stop toe vir sy eie briekligte. Ek wil uitklim maar Sussie sê ek moet wag tot Pikkewyn die deur oopgemaak het.
Toe ons eintlik daar uitklim sien ek die Limoezien het wragtag al die parkeerplekke rondom die kerk gevat. Gelukkig het ons ‘n groot kerk anders het hy in sy eie gat vasgery of sou hy langs homself moes parkeer.
Die troumars begin speel net toe ons in die kerk se gang begin afstap. Sjoe! Ons was net betyds.
Terwyl ons so stap besef ek Sussie vang weer al die glorie want haar sleep hang soos ‘n gordyn oor my nuwe pak. Sy geniet dit blykbaar baie want sy stap so stadig dat ek aanmekaar in haar rug vasloop. Ek probeer verbykom maar sy ken al Michael Shumacher se trieks en loop al voor my in en die kerkgangetjies is nouer as Monako se tonnel.
Eindelik is ons voor in die kerk waar my nuwe skoonbroer blykbaar al lankal staan en wag.
Daai Dominee was blykbaar in die politiek want hy trek daar weg met die ontugwet en stop eers by oorbevolking.
Eindelik is dit ringtyd. My bene was al lam gestaan.
Ek sukkel om die ringe in die nuwe pak se sakke op te spoor. Ontdek in die proses nog ‘n paar versteekte sakke in die baaidjie waarvan ek nie eens geweet het nie. Skoonbroer en Dominee raak later ongeduldig. Hulle laat my sweet en toe ek uiteindelik die ringe kry glip skoonbroer se ring mos uit my hand uit.
Die dom moersleutel wat ringe rond gemaak het het nog nooit in die kerk agter een aan gehardloop nie.
Die verdommende ring rol afdraend van die kansel se kant af onderdeur die voorste ry banke tussen Tante Ans se bene deur en ek agterna.
Tant Ans skrik so groot, sy gee net een gil en knyp my om die lyf vas met haar bene. Hoe meer ek spartel om by die ring uit te kom, hoe vaster knyp sy my.
Gelukkig loop die vloer weer opdraend van die eerste ry banke af en daai ring gaan draai daar onder die vierde ry banke. Met die terugkomslag gryp ek hom en “reverse” triomfanklik agteruit. Met die ring in my hand en ‘n gillende Tant Ans op my rug kruip ek terug preekstoel toe sodat Sussie klaar kan trou.
Toe ek drie jaar later vir Tant Ans gaan vra of ek maar met Klein Ans kan trou was haar antwoord: “Ja, solank jy my net nie weer vir ‘n ride vat nie.”

Tuesday, 31 March 2015

Vryval

Vry op die wieke van die suidoos
vir oulaas sweef ek
bo my eiland tralies.
Vry van lewensboeie.

Op die rand van Tafelberg
het ek na vryheid verlang.
Wind deur my vryval hare,
vry op die wieke van die suidoos

Oor glas en baksteen reuse
met see se grougroen omsoom.
Saam met sorgvry seevoëls,
vir oulaas sweef ek.

Ek kyk af oor stad en kerk,
oor liefhe en oor werk.
Sien die boeie van depressie
bo my eiland tralies.

Dan vir laas knip ek my oë,
vou ek my vlerke toe
en vryval na die rotse...
Vry van lewensboeie.

Gebroke kyk ek Godwaarts
bo my eiland tralies.
Vir oulaas sweef ek
vry op die wieke van die suidoos

Karooklong

Draadstuurwiel in die hand
naelstring hom aan sy draadkar vas.
Sy kaalvoettone en skurwe hakies
skop wolkies stof uit die aspad op.
Tanne wat mieliepit-gelid glimlag
tussen sy gebarste lippe,
waai hy met die los hand
die blink waens by hom verby
om agter hul stofwolk te verdwyn.

Maar as die stof gaan lê
hol hy nog onverstoord voort
agter sy naelstring-draadkar
waarvan die visblikwieletjies
dronk-dwarrel en tjier-tjier.
Ongebonde, ontspanne hardloop hy.
Vodde hemp wapper soos presidentsvlag agterna
as hy sy eie spore deur die land se paaie maak.

Verflenterde Karoo-klong,
met jou skurwe sandsool voete,
jy trap stofwolkies deur my wereld.
Met jou draadkarwiele
los jy dwarrel spore deur my hart.
Swaarkry is jou speelgrond,
sukkel jou leerskool.
Kom leer vir my
in my oorvloed
so glimlaggend gelukkig
soos jy te bly.

Perdevleis

Ienkie pienkie ponkie
Suid-Afrika eet nou donkie
Hiekerie diekerie dok
ons maalvleis is nou bok
Taragie taragoe
ons eet biltongkangaroe
Kul jou hie
kul jou daa
ons steaks is nou sebráá.

Viskoekies in die Baai
bestaan meestal nou uit haai
Daai hoender wat so dril
is dikwels krokodil
Die salami aan die hak
is Taiwannese brak
en sagte pienk polonie
is dalk net shetlandponie.

Maar dis
als die moeite werd:
die arme Britte
kry net perd...


Nie my eie nie, deel net weer.

Spasies

Spasies tussen woorde 
jaag resies deur my kop.
Om en om
sonder ophou,
sonder stop. 
Om uiteindelik te verdwyn
op die eensaam pad
van tweekoedoesmeteenskootdoodgeskietfontein.

Saturday, 7 February 2015

Ankole-Watusi

Ankole-Watusi

In elke sel van my bestaan
weergalm millennia se onthou.
Gisters verder terug as Faro se voorsate
kan ek my stamboom bou.

Nou betree ek die stofpad na more
en lei my kudde voort.
Ek dra my horings hoog met trots
soos ‘n opregte Ankole-Watusi hoort.

My ras volg my getrou
deur eeue, dekades en jare.
Soos hulle in die verskiet verdwyn
lê die toekoms in ons are,
vir nog jare, dekades, eeue. 

Friday, 16 January 2015

Varkvelletjies

Varkvelletjies,dis wat die Joodse leerders by my eerste skool dit genoem het. Pannekoek en pancake het vir hulle ‘n heel ander betekenis gehad.
Praat ons gistraand daar by my kleurvolle vriendin van die lekkerkry eetgoed sommer ‘n lus los.
Die onthou van hoe ma die pannekoeke eers op ‘n bord gesit het, met kaneelsuiker bestrooi het en dan die volgende bo-op. En as die beslag op gebak is het sy weer die toring van bo af opgerol in die oondpan, nog kaneelsuiker bo-oor en dan in die oond dat daai suiker so deur die pannekoeke inkwyl.
Kyk hoe water my bek nou weer.
My se eie ma, aan my pa se kant, kon vir dood nie pannekoek bak nie. Ek onthou hoe ek voor die koolstoof op ‘n kassie gestaan het om pannekoek te bak. Ook so op die bord met kaneelsuiker oor soos prins Andrew se ma gemaak het maar nie in die oond nie. Nee die het te lank gevat. Daai toring is sommer so van bo af verminder na ‘n platdak. (soms sommer nog so terwyl ek bak)
Nou kyk,pannekoek bak gaan mos deur drie stadiums.
Die eerste stadium is die opwindende een. Die aanmaak van die beslag.
Eiers, meel,melk, ‘n paar geheime bestandele en dan natuurlik so ‘n skeutjie Whiskey. Nie te veel nie, net so skeutjie. Daar moet darem nog oorbly vir die volgende stadium. Dan klits en so bietjie laat staan om lekker ryp te word.
Die tweede stadium is die vervelige een waar als gebeur.
Ek gebruik Three Ship Whiskey (5jaar) De Rijger, De Tijger en De Titanic.
Nou word daai bottel langs die stoof staangemaak. Binne trefafstand van ‘n arm en terwyl die pan warm word begin ek solank met De Rijger se kaptein gesels.
Dis belangrik dat die pan goed warm is anders is jou eerste pannekoek ‘n flopoppie. So die gesprek met die skeepskaptein raak bietjie dieper.
Die eerste pannekoek word gegooi en gerol om die hele bodem van die pan te bedek. Dan los jy hom so rukkie vir ‘n slukkie en sodra hy sy houvas op die pan verloor, skommel jy daai pan so bietjie in die rondte en dan… So vorentoe agtertoe beweging laat daai pannekoek ‘n swierige kop oor gat toertjie uitvoer en sy roukant kry warm. Nog ‘n slukkie verder en die pannekoek is in die bord, wat op ‘n pot kookwater staan en wag met die eerste laag kaneelsuiker.
So gaan die proses maar aan. Teen die tyd wat De Rijger vasgemeer is en die bootspartytjie op De Tijger begin is jou bakvernuf al goed ge-olie en die flik flak van die halfrou pannekoek nie meer genoeg nie. Nee. Op hierdie punt van orde word daaipan sommer van die stoof afgehaal en daai pannekoek moet homself nou bewys deur‘n dubbel flik flak te maak tot terug in die pan. Dis nou op die punt wat Vlooivel, die hond, naderstaan want hy weet al hier gaan ‘n paar gelukkies sy kant toe kom.
De Rijger se bemanning is aan wal en nou stoei ek met die Titanic, wat teen ‘n verdoemende spoed voortvaar, se kaptein.
Die rol van die pan na die begiet geslag is word nou ‘n ou tamatiese beweging as ek die pan optel. Die pannekoek vanself los die van kom pan.
Ek vergeet om die pan van die stoof af te haal, probeer ‘n trippel flapflap met ‘n halfdraai na regs in die pike poesies sie en daai koekepan vlieg in daai skoorsteen op dat ek moet uithardloop buite toe en ek vang hom, net voor vlooivelletjie se natneus met my linkerhand, en sit hom terug oppie pan.
Met die terugdraai binne toe sien ek nie vir vroulief hande in die sye voor die deurstaan nie en ek loop pan eerste in die ysberg vas. Daar sink die Taaitanic tot op die teëlvloer van die kombuis. Met geen enkele oorlewendige ekke nie.
Ek moes maar die laaste en lekkerste deel van pannekoekbak , die eetproses, vir die ander los want toe sluk ek weer aan my middagete in whiskey verouderd.

Lank lewe die Taaitanic.

Saturday, 3 January 2015

Boesmanstorie

Die Boesmanstorie

Ek het mos so paar jaar by die boesmans geloop bly. 
Nou hulle, dis nou die boesmans, word heeltemal misverstaan. 
Wat die geleerdes nie besef nie is dat die boesmans mos darem geboorteling van die Kaap is nog voor Da Gama en Jan van Egbreuk hier aangekom het. 
Hulle, dis nou die boesmans kon al lankal Afrikaans praat nog voordat die nuwe mense van oor die see hier aangeland het.
Hulle praat net Afrikaans met ‘n baie sterk Khosa aksent omdat hulle mos nou nog voor ons met die nasie se mense moes saamleef. Hulle klap hulle tonge en kan nie sagte klanke lekker uitspreek nie want sagte klanke dra nie so lekker as hulle agter die gekweste bokke moet aanhardloop nie. Hulle begin ook omtrent elke woord meet ‘n “k” klank.
Uit die aard van die saak kon ek nou weer nie my tong soos hulle s’n klap nie maar ek het darem gou agtergekom hoe hulle Afrikaans van ons Afrikaans verskil. Toe ek besef hulle praat eintlik maar net ‘n ouer dialek van Afrikaans was dit vir my maklik om hulle te verstaan.
Hulle praat ook baie vinnig omdat hulle in die bos baie keer in gevaarlike situasies beland en nie nog tyd het om te mors nie. Dit alles verwar vandag die slim taalkundiges op universiteit en daarom sê hulle die boesmantaal is baie primitief en moeilik.
Maar ek gaan nou nie vandag vir julle probeer boesmantaal leer nie. Ek wil maar net vir julle vertel van die slag toe ek saam met hulle gaan jag het.
Nou kyk, as jy by hulle wil bly moet jy help met kos bymekaarmaak en al die ander takies in en om die kampies.
So gaan ek saam met Klo!!i en Ktjieklie jag. (Dis nou ongelukkig die naaste wat ek aan hulle name kan skrywe. Hulle, dis nou die boesmans, het nie vanne nie want om met vanne opgeskeep te sit as jy ‘n bok moet jaag sal jou net gouer laat moeg word.)
Klo!!i (!!i is nou soort van ‘n tchie tongklapklank) loop voor. Dan loop Ktjieklie en ek dek die agterhoede omdat ek in elk geval nie so ver kan hardloop soos hulle nie en omdat die bokke skrik vir my wit vel.
So loop ons toe nou al van vroegoggend af en die twee voor my begin al praat van trek agter die bokke aan want hulle weivelde is besig om leeg te loop.
Toe die son nou in ons taal so halfelf sit bekruip ons nog steeds niks terwyl ons deur so ‘n bebosde driffie gaan.
Die volgende oomblik gewaar Klo!!i ‘n leeu wat besig is om ons te bekruip en hy laat weet dadelik na agter vir Ktjieklie: “Klie Klom Klak”
Ktjieklie sien ook die leeu wat nou al begin storm en skrik nog groter as Klo!!i. Hy laat weet vir my: “Klie Klom Kloot Klak”
Toe ek daai leeu sien was al wat ek kon uitkry: “Kla Ke Klak”
Ek wil nou nie grootpraat nie maar ek dink dat my reaksie ons gered het want daai leeu het net daar in sy vier spore vasgesteek, sy neus opgetrek, omgedraai en weggehol.
“Kluit, Kluit, Ky sto!!i is Kla”